Bemarking

Handel bestaan in sy eenvoudigste vorm uit 'n ruiltransaksie tussen twee persone. In die vroegste tye het primitiewe mense spesifieke oorlewingsbehoeftes bevredig deur ruiltransaksies aan te gaan. In daardie tyd was die deelnemers in direkte kontak met mekaar en ruiltransaksies het net plaasgevind as albei deelnemers tevrede was met dít wat in ruil aangebied is. Die voordele van sulke transaksies is gou besef. Gaandeweg het ruiltransaksies toegeneem en 'n vraag het ontwikkel na 'n verskeidenheid produkte en dienste wat die mens se lewe makliker en aangenamer kon maak. Hierdie vraag het deur die eeue stukrag verleen aan ekonomiese ontwikkeling en doen dit vandag nog.

Bemarking is die deurlopende proses van beplanning en uitvoering van die elemente van bemarking (produk, prys, plek en promosie) van produkte, dienste of idees om ruiling tussen indiwidue en organisasies te bevorder.

Bemarking word gewoonlik as 'n kreatiewe onderneming gesien wat advertensie, verspreiding en verkope insluit. Dit is ook gemoeid met die voorsien van kliënte se toekomstige behoeftes en begeertes, wat dikwels ontdek word deur marknavorsing te doen.

Bemarking is in wese die proses waartydens 'n organisasie geskep of gestuur word om 'n produk of diens suksesvol te verkoop wat mense nie net begeer nie maar ook bereid is om te koop.

Goeie bemarking moet dus 'n aanbod of voordele vir die eindgebruiker daarstel wat waarde lewer deur middel van produkte of dienste.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search